Monday, 20 July 2015

Kalfiefees bied iets vir almal

Die jaar vlieg. Dis weer amper tyd vir die Hermanus Times Kalfiefees (6-10 Augustus).
Maak reg om jou te verlustig in die beste van toneel, musiek en eksperimentele teater. Vanjaar se Kalfie is weer eens besonders met iets vir almal.
Daar is komedie, musiek (onder meer Emo Adams, Koos Kombuis, Juanita du Plessis), kabaret, dramas en ietsie vir kinders. Ook tree die Stellenbosch Libertaskoor op in die NG Gemeentesentrum, Onrus.
Vir die oomblikke tussen vertonings bied die kuiertent (langs die De Wetsaal) lafenis en lekker kos, en die Kalfie-kunsuitstalling (ouditorium) is ’n gulde geleentheid om ’n groot verskeidenheid kunswerke onder een dak te sien en jou eie versameling uit te brei.


Openingsaand
VonWest tree Donderdag 6 Augustus om 19:00 in die Sandbaaisaal op. Die naam is afgelei van beide sangers se vanne, Deon von Solms en Pieter West. Saam is hulle ons eie Pavarotti en Bryan Adams, en word na hulle verwys as die “Dominee en die Rocker”. Voor hul optrede word ’n heerlike driegangmaaltyd voorgesit.
Kaartjies kos R280 en die vertoning duur 180 minute. Tafels kan by Computicket bespreek word.

Ingrid Jonker Wêreldwyd
Hierdie multimediaprogram bring hulde aan Ingrid Jonker wat vanjaar in Julie 50 jaar gelede oorlede is.

Die program sluit uittreksels uit dokumentêre video’s, gesprekke met o.a. André Brink, Jan Rabie, Marjorie Wallace, musiek-video’s van sangers soos Chris Chameleon en Laurika Rauch en voorlesings van gedigte in.
Die samesteller is Petrovna Metelerkamp, ook vanjaar se ontvanger van die gesogte Kalfiefees-teël. Die vertoning vind Vrydag 7 Augustus om 18:00 by die munisipale ouditorium plaas. Die kaartjies kos R80.

Spring en kry jou Kalfiefees-kaartjies nou. En gou. Want voor jy jou oë uitvee sit jy dalk stoksielalleen terwyl almal om jou in die heerlike sonnige, droë Augustus-langnaweek (as ons die vooruitskatting kan glo) hul harte uitkuier.
As jy in die Overstrand is, die  programboekie is beskikbaar by die Hermanus Times, Hermanus-toerismekantoor en Computicket. Die boekie is ook 24/7 by die Kalfiefees-kantoor by die De Wetsaal, Onrus beskikbaar, in die mandjie wat aan die buitekant van die veiligheidshek hang.

Besoek die webtuiste: www.kalfiefees-hermanus.co.za vir die volle Kalfiefees-program.
Besprekings via www.computicket.com.

No comments:

Post a Comment