Tuesday 28 July 2015

Kalfiefees sonder wind en met baie son!!

Om so gelukkig te wees oor die Kalfiefees naweek gebeur baie selde maar, as die weervoorspeller reg is, sien ons uit na ‘n heerlike sonskynnaweek en dit nog sonder die nare Augustuswinde ook. Wat ‘n bonus! Die komitee het vanjaar regtig baie moeite gedoen om so veel as moontlik produksies van top-gehalte na die fees te bring.

Van ons wegspring op Donderdag 6 Augustus by die Gala-aand met die heerlike 3-gang maaltyd van Warwick Chef School en daarna die gewilde musiek van die VonWest opera-rockduet, gaan ons die naweek in met spoed. Die spyskaart vir Vrydag 7 Augustus sluit in, ‘n multimedia produksie oor die werk en lewe van die bekende Ingrid Jonker, wat deur haar outobiograaf en ons Kalfiefeesteël ontvanger van 2015, Petrovna Metelerkamp, as huldigingsprogram aangebied word. Ons kry ook geleentheid om op Vrydag te luister na 3 verskillende musiekkante, Koos Kombuis, Danièl Pascal en Elvis, wat elk ‘n ander tipe gehoor sal trek.



Saterdag 8 Augustus spring ons weg met die kabaretmusiek van die pragtige 3 jonge  dames in Welkom in SA en die eenman vertoning van Frank Opperman in Die Klaagliedere van Ds Tienie Benade.  Die res van die dag sluit in, die deernisvolle vertelling van Erik Holm in blou-blou, die lewensbeskouing van die twee jong manne in Frats, die twee “ou mensies” Elize Cawood & Wilson Dunster) in Die Wagkamer, Neels van Jaarsveld met sy golfspelery in Innie Rof, die aankoms van die  eersteling in Pienkvoet en  weereens drie uiteenlopende musiekproduksies, die kabaret Psalms van ‘n Huisvrou, Tyd en Weill en die immer gewilde Juanita du Plessis om die dag op ‘n hoë noot mee af te sluit.


Teen hierdie tyd van die naweek is ons nou al goed opgewarm om sommer Sondag 9 Augustus, vroegoggend te begin met die drama Die Glas ennie Draad, wat ons ‘n kykie gee wat in bendekringe aangaan. Vir die musiekkenners bied Ballade van ‘n “backtrack” ‘n aangename potpourri van verskillende musieksyle en genres aan deur twee top musici, Winand Grundling en André Terblanché, daar is die pragtige verwerking van Bob Dylan se musiek deur die sanger Koos van der Merwe in Tamboerynman, die klassieke klanke van die  Stellenbosch Libertaskoor, pragtige Afrikaanse nuwe komposisies en klanke van Emile Minnie en kom stamp die voete en swaai die lyf laataand met Emo Adams in Finding Emo en sy Take Note Band!   Gedurende die dag kan feesgangers kom verken  hoeveel woema Sharleen Surtie-Richards het in die eenvrou vertoning Die Woema van ‘n Windgat Wyfie, en dan kan daar kers opgesteek word oor hoe om te werk te gaan in Affairs vir Domkoppe 2. Die lekker lag vir die naweek word voortgesit met Vetterag of te not, Sports en die manne wat so saampraat in Hier sit die manne.


So tussendeur al die pret en plesier is dit nodig om die innerlike te versterk en vanjaar lyk ons Pick&Pay Kuiertent langs die De Wetsaal na die perfekte plek om jou ete en drinke te kom kry. Alles wat jy graag wil eet onder een dak met ‘n lekker bier of ‘n glas wyn in die ander hand.  Ons  Kunsuitstalling  in die foyer van die Burgersentrum is ook goed gerat om  sommer ook jou eie keuse skilderye vir die huis aan te koop want met 60 uitstallers gaan daar vir elke kunsliefhebber iets wees wat hom/haar gaan geval.


En so vir oulaas op Maandag 10 Augustus, terwyl nog ‘n paar laaste produksies van die naweek klaarmaak sorg ons dat die kinders ook ‘n beurt kry met die mannewales van die tuindwerge in Kinkel en Konkel.


Die uitnodiging is dus: Kom kyk walviskalfies, kom lag, huil, sing, dans en baljaar  in die sonskyn terwyl die Kalfiefees sal sorg dat  die kospotte en die drankbekers volgehou word tydens die langnaweek van 6 – 10 Augustus.



No comments:

Post a Comment